Doulos - Sentrale databasis
Doulos vir die sentrale databasis se data word alles op een rekenaar in een databasis gestoor. Omdat data op een sentrale punt bygewerk word, kan persone wat die data bywerk dit vanaf enige plek doen solank daar internet toegang is. Predikante kan dus data bewerk vanaf die pastorie, adminstratiewe beamptes kan selfs vanaf die huis werk ens.
Elke gemeente wat die stelsel gebruik moet 'n meestergebruiker aanwys. Hierdie meestergebruiker stel die gebruikers in die gemeente op, en spesifiseer elkeen se toegangsregte op die stelsel. Geen kennis van SQL server is nodig nie. Die proses is eenvoudig gemaak sodat enigeen dit kan doen. Buiten toegangsregte tot sekere data, kan opsies in Doulos self ook vir elke gebruiker geaktiveer of gedeaktiveer word. Sekere gebruikers sal byvoorbeeld nie sms'e kan stuur nie, of nuwe lidmate kan byvoeg nie ens.
Die data word sentraal op 'n MS SQL Server 2008 bediener gestoor. Direk nadat 'n gebruiker suksesvol op die databasis aangeteken het, word die gemeente se data afgelaai na buffers op die plaaslike rekenaar. Slegs die data waarvoor die gebruiker toegangsregte het word afgelaai. Omdat die data in buffers op die plaaslike rekenaar is, is die soek en sorteer van data vinnig en seepglad. Sodra data op die plaaslike rekenaar bygewerk word, word dit ook op die sentrale databasis bygewerk. Data op die plaaslike rekenaar kan enige tyd met die data op die sentrale bediener gesinkroniseer word, om sodoende die plaaslike rekenaar se data met veranderinge wat deur ander gebruikers gemaak is te sinkroniseer.
Installasie van Doulos op 'n rekenaar is vinnig en maklik. MS SQL server is nie nodig op die plaaslike rekenaar nie. Doulos vir die sentrale register installeer net so vinnig en maklik soos die ander weergawes van Doulos.
Wat gebeur as daar geen internet toegang is nie ?
Telkens wanneer suksesvol na die sentrale register aangeteken word, word buffers op die plaaslike rekenaar met die data vanaf die sentrale bediener gevul. Wanneer die gebruiker Doulos termineer, maak Doulos 'n rugsteun van die buffers op die plaaslike rekenaar, stoor dit onder die spesifieke gebruiker se naam en encrypt die data met die gebruiker se wagwoord. Wanneer die spesifieke gebruiker weer wil aanteken, en die sentrale databasis is vir een of ander rede nie beskikbaar nie, kan die gebruiker aanteken op die data wat gerugsteun is, en dan word die gerugsteunde data teruggeplaas na buffers op die plaaslike rekenaar. Die gebruiker kan Doulos dan normaalweg gebruik om verslae te druk, lidmate te soek ens. Indien die gebruiker egter die data wil bywerk, moet hy eers weer op die sentrale register kan aanteken. Daar is dus altyd 'n kopie van die gemeente se data in die gemeente se besit in die vorm van 'n rugsteun op die plaaslike rekenaars.
Watter prosedure moet gevolg word om hierdie weergawe van Doulos te gebruik ?
Die skakel na hierdie program word slegs aan gemeentes gegee wat die program gebruik. Indien 'n gemeente wie se data nie op die sentrale bediener is nie tog die skakel sou bekom waar die program afgelaai word, sal die program nutteloos wees aangesien daar met wagwoorde op die stelsel aangeteken moet word.
Gemeentes kan nie self die data na die sentrale bediener oorplaas nie. Dit word deur ons gedoen. Gemeentes moet dus hulle data aan ons stuur sodat ons dit na die sentrale bediener kan oorplaas. Dit word gratis gedoen. Die volgende formate is aanvaarbaar:
Doulos (al die weergawes), SuperSkriba (al die weergawes) en Winkerk (al die weergawes).
Ander dataformate moet spesiaal omgeskakel word, en 'n fooi sal in daardie gevra word, afhangend van die formaat.
Gemeentes kan Doulos vir die sentrale databasis dan gratis evalueer vir 2 maande. Indien die gemeente dan nie die stelsel wil gebruik nie, is daar geen kostes nie. Indien die gemeente wel die stelsel gebruik, is die eerste 2 maande se gebruik ook betaalbaar, en is die eerste 2 maande se gebruik dus nie meer gratis nie.